Saturday, November 29, 2008

Fanksgiving

Die Amerikaners is baie lief vir “petition” en “escrow”. Daar is dan nou ‘n regsfirma in Atlanta wat namens my “petition” om hier te mag werk. Ek kan nie die haas of die erns daarvan verstaan nie maar dit vir wil my voorkom asof Liesl nie heeltemal te vinde is met my nuutgevonde status as afgetredene in die land van AppleMac en Ebay nie. Die gatslag is dat ek ook nie sonder ‘n werkspermit ‘n “social security number” kan kry nie wat beteken ek kan nie ‘n Kaliforniese betsuurslisensie en ‘n hele ander spul goed daarmee saam kry nie. Ek sal nou maar wag vir die ou blerrie werkspermit, die SSN en lisensie ens en julle dan almal kontak om my eie internet kettingbrief “petition” te onderteken ter onderteuning van my vervroegde pensioen.

Die fietse wat nie deur hulle base kom haal is nie is toe losgeknip en gelaai. Ek is mos ook ‘n Cheapskate, altyd opsoek na winskopie en het natuurlik vir Clara opgesteek om te gaan hoor of sy nie so met die losknip ‘n fiets kan koop nie. Sy kom toe saam met ‘n vrou terug wat haar ongevraagd voorstel as die bestuuder van Wild Horses of moet ek se – Die Bestuurder van Wild Horses. (Voorsitter van die Body Corporate seker). Sy verduidelik toe ook wat ek reeds weet. Dat die fietse opgeveil gaan word en wat ek nie geweet het nie – dat ‘n sekuriteitsmaatskappy nou ook twee keer ‘n nag hier by Wild Horses kom patroleer net om seker te maak dat enige lawaai binne perke bly. Want, se sy, netnou gaan dit dit soos hier langsaan. Hier langsaan is nou die Engels tweede taal gesubsidieerde behuising waavan ek al geskryf het. En net daar het ek toe ook my “Oprah Light Bulb Moment” Ou Wally, ek besef toe ek bly mos nou ook vir die eerste keer in my lewe in die bodorp! Ons het nou net nie ‘n spoorlyn om om aan die regte kant van te bly nie, maar ons het heining van ten minste amper ‘n meter hoog en ‘n deurloop sonder ‘n hek, maar dis genoeg om ons van die algemene lae klas gepeupel te onderskei , jy weet! Ek sal ook dadelik “petition” vir palisade-heings soos die by die museum in Oos-Londen .

Ek het gelukkig Haloween gemis, maar was betyds vir Thanksgiving. Dis seker die Amerikaners se gewildste vakansiedag en het, soos ek verstaan, dit die eerste keer reeds in 1620 gevier. Dis ook baie groter as Kersfees . Die Kanadese vier dit ook, maar omdat hulle oestyd op ‘n ander tyd val , is dit vroeer of later. As ek meer by die skool was om op te let sou ek kon se of die Kanadese oestyd vroeer of later is omdat hulle verder Noord is…. Ek moet se Thanksgiving word ook goed bemark (soos Kersfees by ons ), maar dis asof die deursnee amerikaner iets van die boodskap van dankbaarheid verstaan. Ek hou van die idée van ‘n “Dankseggingsdag” en maak vir my as publieke vakansiedag meer sin as baie van ons SA vakansiedae. Ek weet ons moet elke dag in dankbaarheid lewe, maar ons behoort dan elke dag ook die Kersboodskap uit te leef. Miskien herhinner Thanksgiving my aan my oupa wat die seen voor die maaltyd gevra het en na poeding “gedank” het.

Heelwat amerikaners het ons genooi om die dag saam met hulle te spandeer, maar ons was reeds genooi deur ‘n ander Suid-Afrikaanse gesin. Ek wou se afrikaanssprekende amerikaners (White Afro- Americans) maar hulle boere gasvryheid het hulle weggegee. Hulle het hulle huis oopgegooi vir ‘n total van omtrent 14 groot mense en seker 6 kinders. Daar was nou nie die tradisionele thanksgiving turkey nie, maar wat ek net kan beskryf as ‘n tradisionele afrikaanse thanksgiving. Skaapboud, hoender, boerewors, malvapoeding en nog baie meer. Ek kan in elk geval nie die Amerikaners se beheptheid met kalkoenvleis verstaan nie. Ek weet dit sal vir my gese word dat heerlik is en dat dit net nie reg gaargemaak was toe ek dit geeet het nie. My Ass…… Ek gee nie om hoe jy kool of spinasie gaarmaak nie - dis nie lekker nie. En ek kan nie dink daar is ‘n regte manier om ‘n kalkoen gaar te maak nie. Die 14 groot mense en 6 kinders was almal Afrikaans! Wat ‘n lekker spul mense. Enige een van hulle sal maklik ook huisvriende in Suid-Afrika kan wees. (Ek se dit omdat ek al gehoor het van Suid-Arikaners wat nie met ander landgenote in die buiteland wil meng nie .)

Die Amerikaners verstaan bemarking. Ek was betyds in Amerika om die stertkant van Haloween te vang. Die volgende dag kon jy al op die radio hoor van Thanksgiving specials en die winkels is reeds vol Kersversierings. Gisteraand het ek en Liesl die eerste kersboom op ‘n kar se dak gesien wat aangery word huistoe. Die dag na Thanksgiving is die Black Friday sales. Dis die dag van specials van 10% tot 70% af en wat die kleinhandelaars van rooi na swart toe gaan. Die winkels is omtrent van 4 uur af oop en gisteroggend is een van Walmart se werknemers dood getrap toe hy die deure oopmaak. Die Barnardt’s is ook vroeg op en ek in Clara is in Walmart in terwyl Liesl by ’n slapende Anja in die kar gewag het. Die Amerikaners is nie dom nie. Dis social engineering op sy beste. Daar is soveel chaos in die winkels en ek is seker dat dit is presies wat die retailers wil he. Die chaos verseker dat jy heelwat goed koop wat jy nooit wou gehad het of nooit sal gebruik nie. Die chaos verseker verder dat jy nie na die pryse kyk nie, want dit MOET mos goedkoper wees! Om ‘n voorbeeld te gee. ‘n Kitchenaid koekmenger is vooraf geadverteer vir $130. Ek kry toe een wat daar op die vloer rondstaan, tel hom op en omdat ek nog $130 sien as meer as R1300 vra ek oppad kasregister toe vir ‘n Walmart-werknemer met een van daai koordlose laserguns om vir my ‘n “price check” te doen - $189. Die mense koop in sulke volumes dat ek wonder hoeveel van hulle in 5 jaar sal agter kom dat hulle te veel vir ‘n item betaal het.

Amerika is groot op nog ‘n ding. Coupons! Nadat ek vir Anja by die dokter gehad het, het die apteek by Costco laat weet dat hulle vir die masker van ‘n asmapompie wag en ons die volgende dag eers moet kom om die medisyne haal. Toe ek die volgende dag daar kom was die masker steeds nie daar nie. Hier verwag jy diens en die knipoog apteker kon seker sien hierdie boer is…… Hy pluk to ‘n coupon uit en beduie “You no pay, you no pay, flee whe couuu-pa!” So kry ek die asmapompie toe verniet en Anja kom ook goed reg sonder die masker wat oor die pompie pas. Hier coupon almal. Daar is tot websites waar jy vir coupons kan soek en jy kry die goed op die snaakste plekke. By die fliek het ek en Clara ‘n 15% coupon van GAP gekry. Weird!

Na ‘n maand in Amerika kan ek nou al se daar is ten minste twee goed van die Amerikaners wat ek haat soos pes. Heelbo aan my lys is hulle alewige “OH MY GOD” Die ander is dat ek onstellend baie van hulle op straat sien wat loop en spoeg. Hulle bly verseker nie in Bodorp nie……

No comments: