Tuesday, November 25, 2008

Die Plek is Anders....

Die plek is anders. Baie anders.

Selfs die vliee en die voetgangers is anders. In SA het ons windgat vliee. Die wat jou storm as jy hom jaag. Maar ons het in SA ook Target Mortein! Dis die goue blik met die rooi prop. As jy hom een spuit gee, is hy soos 'n Kamaze pilot reguit grond toe. Hier is die vliee en voetgangers sulke lui goed. Die omgewingsvriendelike insekdoder (al wat jy kan koop) ruik baie lekker maar dis omtrent al. Jy moet die vlieg omtrent op die grond vasdruk, sy bek oop forseer en die lekkerruik gif in sy keel afspuit. Dan loop hy vir nog so vyf minute rond met agterpote wat so kort-kort knak soos hardlywigge Bulldog wat nie sy sit kan kry nie.

As jy hier by 'n 4 rigting stopstraat stop, moet jy seker wees jy het padkos saam met jou. Jy moet wag dat die voetganger wat dwars voor jou verbyloop eers veilig op die ander sypaadjie is voordat jy mag ry. Teen daardie tyd is die motoris links van jou al gatvol gewag en het sy kar reg voor jou neus en moet jy vir hom ook wag. En ja, teen daardie tyd is daar al weer 'n voetganger voor jou wat jou so uit die hoogte uit aankyk asof dit jy is wat vir aarverwarming verandwoordelik is. As die tweede of derde voetganger my so aankyk se ek sommer so kliphard "Ou Pel, kom try jou luck by ons 4 rigting stops met 'n paar taxis, jou……" Ek begin nou al leer waar in die dorp die voetgangers die meeste oor die strate stap en probeer dit te vermy deur 'n straat of wat hoer of laer min of meer by dieselfde plek uit te kom.

Die mense in Davis is nogal uitgesproke en soos reeds gese ingestel op die omgewing. Met die verkiesing het ek hordes karre met bumper stickers gesien waarmee die ou sy kandidaat ondersteun. Ook voor die huise is partyplakate. In SA dra hulle so nou en dan 'n pienk lintjie vir borskanker of rooi vir Vigs. Hier is die goed ook in die vorm van 'n lint maar dis so twee hande groot en word op die karre geplak. Van "Support our Marines"' tot " Free Palistine". Hulle is ook groot op herwinning. Ek ondersteun dit natuurlik ter harte. Een keer 'n week kom haal die vullislorries net bottels, blikke en papier. "Om die omgewing te spaar jy weet", sal die ou vir jou se terwyl hy uit sy V8 Chevrolet (met die brandstofverbruik van n vliegdekskip) se venster uithang. Ek kry die idée dis soos daai ding van - om jou aan sjokolade te vergryp en dan te kompenseer deur Diet Coke te drink.

Ek het ek die week met myself gestry en gevra vra watter dom vent eerste besluit het dat 'n mens gestrykte klere moet dra. Ek meen as ons almal ongestrykte klere gedra het was dit die standaard en niemand sou van beter geweet het nie. Dit was eers nadat ek besef het dat dieselfde argument sou geld vir tande borsel en hare kam, dat ek vrede gemaak het dat klere gestryk moet word. Ek dink dit het te doen met die mens se inherente behoefte aan 'n mate van ordelikheid. Ja die lewe sou seker makliker gewees het met 'n Lina hier maar ek moet se ons kom goed reg sonder haar. Die kinders sukkel nog so bietjie met Pa en Ma se nuwe strengheid oor skottelgoed wat direk van die tafel af in die skottelgoedwasser moet in en dat jy nie drie keer 'n dag sommer net skoon kan aantrek net omdat jy so voel nie . Dit is seker ook omdat die Linas hier bietjie duur is dat die Amerikaners so ingestel is op "ready-to-eat" dit en , "drive-through" dat ens.

Vandag in Costco kyk ek na al die klaargemaakte "Turkey stuffing" en dink by myself as hulle kan uitwerk wat die gemiddelde lengte toiletpapier is wat elke Amerikaner van die rol afrol, sal hulle dit sweerlik ook as "pre-cut-ready-for-use-without-the fuss-of-perforations" bemark. Alles hier gaan om gemak. Seker die dat "on-line-shopping" so groot is. Tot my onsteltenis het Wonderwoman ook die euwel ontdek. Die mense is gaande oor ons aksent en wil dadelik weet vanwaar ons is. Aan die begin was dit nogal lekker om te kan se van Suid-Afrika maar dit raak nou so bietjie tedious. So hier en daar raai hulle sommer, soos nou die dag in Safeway - " Are you from Kroatia?" Ek kon nie die versoeking weerstaan nie – en antwoord toe met my eie vraag " How did you know?" en het toe sommer vinnig met die kinders begin raas en begin aanstap voor die antie in Kroaties/Kroasies met my wil begin praat.

Liesl en die kids is vandag 'n maand hier en sy kry reeds elke week soveel pos as wat sy by die huis gekry het. Dit sluit nou junk mail in. As die derde wereldoorlog uitbreek sal dit sweerlik nie wees omdat die Amerikaners nie kommunikeer keer nie. Vandat ek die "pre owned" Dodge Durango vliegdekskip (te hel met die omgewing) aangeskaf het, het ek al 'n brief van die verkoopsman gekry om my te bedank vir my aankoop en net om my weer te verseker dat ek die winskoop van die eeu gekry het en dat hy eintlik afgedank moes word omdat hy basies moet inbetaal op die deal soort van ding. Toe kry ek 'n brief van sy baas om my te bedank vir die ondersteuning en beam die goeie koop en waarsku my toe ook sommer dat daar 'n verdere brief oppad is om seker te maak ek is tevrede met hulle diens. Ek verwag darem dat die briewe van hulle kant af sal ophou voordat ek te oud is om te bestuur. (En vandat ek die geskryf het, het hulle kwitansie vir die tjek ook in die pos aangekom).

Meeste van ons bly of het al in deeltitel komplekse gebly en weet watter prêt dit kan wees met al die reels. Ons bly in 'n kompleks reg langs 'n lae koste behuisings ontwikkeling. Die ontwikkeling van die kopleks waarin ons bly, is goedgekeur op voorwaarde dat die inwoners langs ons, "ons" ontspanningsfasiliteite mag gebruik. As ek se lae koste behuising, is dit nou nie soos by ons in SA nie. Dit word deur die regering gesubsidieer en die meeste mense se eerste taal is nie Engels nie. Meer Spaans as jy weet wat ek bedoel.

Nou die aand was daar by die Engels-tweede-taal kopleks moleste, met omtrent 6 polisiekarre. Ek dink nie die polisie hier sien veel aksie nie, so as hulle die dag uitgeroep word, kom tot die ouens wat van diens af is in om in oefening te probeer bly. Bygese as iemand hier 'n hartaanval kry, MOET die brandweer ook uitkom. Waar ek eitlik wil probeer uitkom, is die volgende dag praat ons met die buurvrou en 'n buurman kom toe ook aangestap. Die buurvrou is toe agv van die polisie aktiwiteit baie onsteld oor die hek tussen ons en die ander kompleks verwyder is. Dit terwyl die heining tussen die komplekse skaars 'n meter hoog is en nie een van die komplekse 'n heining of hek aan die straat se kant het nie.

Al wat fiets is, is ook die week met so helder oranje plakker beplak wat se jy moet jou fiets identifiseer en 'n "parking authorization tikcket" bekom as jy hom in die kompleks wil parkeer en vassluit. Soos ek verstaan los mense die fietse agter soos party mense in SA diere agter laat as hulle trek. Dis omdat dit so duur is om enige ding in Amerika te trek. Wat nou gebeur het, is dat daar nie meer genoeg parkeerplek vir fietse in die kompleks is nie. As jy nou nie jou fiets eien nie, verwyder hulle hom en word dit op die jaarlikse Davis fietsveiling ten bate van een of ander ding verkoop. Hulle kon in my mening baie moeite gespaar het om net vir die Spaanse bure te se "Senor, come choose for you a bicycle" Maar as ek dit sou voorstel is ek netnou op die "Body Corporate" en dit wil ek nie he nie.

Met my werkloosheid wat my heeldag besig hou, het ek nou allerhande huisvroupligte ge-erf. Ek loop nou ook in die winkels rond en soek na skoonmaak middels en kyk vir specials in die vleis-afdeling. Gaan huistoe, stofsuig die matte ens. Drink my 11 uur teetjie en gaan haal die kinders by die skool . So moes ek toe ook vir Anja met 'n lastige hoes dokter toe vat. Hier moet jy die kind na 'n pediater toe vat. Dis toe 'n Dr. Lee en terwyl ek in sy spreekkamer wag, hoop ek stilweg dat die Knipoog nie in Sjina gekwalifiseer het in Oosterse medisynne nie. My verbasing was nogal groot toe 'n doodnormale westerling van Amerikaanse afkoms daar instap. Met die voortel se/vra hy "You are from Australia? "No –"Kroatia" dink ek en se toe maar hardop Suid-Afrika aangesien ek hom ook aanvanklik misplaas het.

ZAK

1 comment:

RonelC said...

Ek sien 'n boek kom!! Ek geniet jou inskrywings SO BAIE - ek kan nie dink watter uitgewer publikasie sal weier nie! Doen so voort en sodra jy genoeg geskryf het om 'b boek te vul, word ek jou agent en le dit voor aan al wat 'n uitgewer is!! Groete aan Liesl en die girls