Sunday, December 14, 2008

Kersfees

Ons word steeds blootgestel aan die Amerikaners se Ready-to-whatever wat gepaard gaan met ‘n onverstaanbare oordadigheid. Al gehoor alles is groter in Texas? Dit geld ook vir Kalifornie. Hier is ‘n Humvee maar klein teen ‘n paar van die bakkies wat op die paaie te sien is. Ek en Liesl het nou vir die soveelste keer besef dat ons eintlik net een porsie kos kan bestel, om saam genoeg daarvan te kan eet. Die kersversierings in die winkels is so oordonderend dat jy nie kan uitmaak of dit ‘n apteek of ‘n winkel is wat elektriese ware verkoop nie. Ek weet ook nie wat die winkels met al die vloerspasie maak as Kersfees verby is nie. Op die radio hoor jy omtrent net kersmusiek. Ek sit al die radio op die “talk radio” stasies want op die ander/gewone stasies is dit een stryk deur Jingle bells, I’m dreaming of a white Christmas……. Ironies hoor jy nie sommer iets met ‘n Christelike boodskap soos “Silent night” nie. Sad! Baie sad!


Ons sal die jaar nie ‘n kersboom opmaak nie. ‘n Regte egte lewendige boom (wel voor hy afgekap is natuurlik) wat groot mode in die geweste is, kos so tussen $60-$90. Lees R600-R900. Die cheapskates wat so naby aan die spoorlyn bly dat jy nie rerig kan onderskei tussen bo- en onderdorp nie, sal maar wag tot na Kersfees en ‘n herbruikbare “Made in China” een op die sales MET ‘n koepon moet gaan koop!

Hier word die huise ook versier met van gekleurde liggies, opblaas sneeumanne, kersvaders, bokkies of wat ookal Rupert of Roedolf is (ek ken nie musiek so goed nie), tot tuisgemaakte treintjies en gemmerkoekhuisies. In die bosveld sou jy kon se hulle ruk totaal en al die tarentaal…….. Om my punt te illustreer heg ek so paar kiekies hierby. Moenie ‘n fout maak nie. dis mooi en die kinders en grootmense geniet dit onsettend baie.








Liesl begin nou die werkinge van online shopping onder die knie kry en daar is omtrent ‘n oproer in die huis as die UPS lorrie voor die deur stop. Anja spring op en af, klap hande en pie-pie sulke drupeltjies van opgewondenheid soos sy gil “Hier’s die YOU-PEE-ESS!!!!” Elke boks word soos ‘n lucky packet ingewag en oopgeskeur dat die huis na die tyd soos ‘n Sappi paprierpulpfabriek lyk. Daar is ook nie ‘n beperking op wat jy kan koop nie. So het ons een aand in die bed gele en op US Mattress, ‘n King size matras aanlyn gekoop wat al die pad van Michigan af oppad is omdat dit ‘n $1000 goedkoper is as enige ander plek. As jy ‘n idée wil he van die logistieke, kyk gerus na die kaart hieronder. Hou dan ook in gedagte dat Kalifornie amper so groot soos die hele Suid-Afrika is. US Matress sal sekerlik na dese hulle beleid rondom “free shipping” van net oor 3700km wil hersien. Hierdie boer sal hulle leer hoe om ‘n sisteem te gebruik!


Van Kalifornie gepraat, ‘n mens kan maklik dink dat die ekonomie net om Hollywood , Las Vegas en Disneyland draai, maar sowat 50% van Amerika se vrugte word hier geproduseer. Bykans 21 miljoen mense is of direk, of indirek in die landbousektor betrokke. Om dit in perpektief te stel – dis amper hoeveel Zimbabwiers daar in SA isJ Die boere hier se probleme is baie dieselfde as ons boere sin. Hulle kan ook nie sonder hulle onwettige arbeiders (Meksikaners klaar kom nie) en net soos in SA weet die owerhede daarvan, maar draai maar gesig anderkant toe ter wille van voedsel sekuriteit. Wel seker nie heeltemal die rede in SA nie, maar hoekom nou SA trash?

Ek het twee noue ontkomings gehad. Die eerste het te make met ‘n voetganger (alweer) van Oosterse afkoms (alweer). In die reen het sy binne haar reg by ‘n voetoorgang oorgestap. Die enigste probleem was dat haar bruin baadjie en swart hare, haar perfek gekamofleer het by die bruin geplaveide voetoorgang en nuut geteerde natgereende swart pad. Gelukkig vir ons albei, het sy kopgehou en so tree terug gegee om uit my gehuurde Ford se pad te kom. Ek kan nie se wat sy geskreeu het nie, maar ek my eie afleidings maak. Sy kon ook nie verstaan wat ek in Afrikaans vir haar terug geskreeu het nie. Die owerhede hier is juis so onsteld oor die tref-en- trap statistieke (meer as 300 in Kalifornie vir 2007 en 2.7% van alle noodlotige ongelukke) aan die styg is en blameer jong mans sonder lisensies. Twak! Dis die donnerse voetgangers wat dink die aarde behoort aan hulle. En dis omdat jy in sulke moeilikheid kom as jy een raakry dat die voertuigbestuurder vir homself se “I’ll takes my chances “ en homself dan uit die voete maak.

Die ander noue ontkoming was die briefie wat van die skool af gekom het met die versoek dat ek ‘n musiekles oor 6 komponiste moes kom aanbied. Die skool sal al die materiaal en ander media verskaf. Die wat my ken sal weet dat as ek my hande eenkeer klap ek klaar uit ritme is en dat ek nie eers al die woorde van DO RE ME almal kan onthou nie. In SA was die uitweg maklik. Stuur net ‘n boodskappie terug skool toe en se “jammer om van jou probleme te hoor my ding, maar pappa is so bietjie aan die besige kant…..miskien volgende keer….” Hier is “parent volunteering” groot en selfs die van julle wat my so in die laaste tyd vertel het hoe besig julle is (selfs om net ‘n email van langer as twee sinne te skryf) sal nie kan wegkom nie. Selfs maatskappy direkteure verander hulle skedules om boeke in sake te kom sit of om te help met sportreelings . Ek het toe maar vir die juffrou vertel van die beperkinge rondom my musiektalent en haar verseker dat ek beslis een is wat heelhartig die Amerikaanse sisteem van “parent volunteering” onderskryf en dadelik aangebied om as “volunteer driver” op te tree met die klas se volgende uitstappie op 16 Desember. Sy het die aanbod aanvaar, die vorms gegee om in te vul en ook aangese om my bewys van vesekering by die kantoor te kom wys. Met die dat ons kort hier is, sien ek toe ons tydelike versekeringskaart verval 14 Desember net mooi twee dae voor die uitsappie……. Toe Clara by die huis kom met die versoek dat ek hulle klas moet kom help om Gemmerkoekhuisies te kom versier, was ek nodeloos om te se, loshande ‘n uur voor die tyd daar. Ek het pakkies gedra, tafels reg gesit en toe maar hier en daar gat geswaai om baie besig te lyk sonder om eintlik veel te doen en my opnuut verwonder aan klaargemaakte versiersuiker uit ‘n blik en hundreds and thousands in drie kleure, rooi, wit en groen spesiaal vir die kersseisoen. My volunteering is nou vir eers verby vir die jaar. So nou is dit die mense soos julle wat tog SO besig is se beurt …….

ZAK

No comments: