Sunday, March 29, 2009

2 Hardeskywe later en ek blog weer!

Dis nou nie dat ek lui raak om die blog op datum te hou nie.  Eers het die hardeskyf opgepak. $100 en twee weke later toe pak die nuwe een ook op.  So as jy lank laas van my gehoor het, - dis die rede.

Ons het nog nie elkeen ‘n Stetson en ‘n paar Cowboy boots aangeskaf nie, maar ons begin al hoe meer tuis voel in die plek. 

Ek het onlangs my eerste kultuurskokke  in Amerika beleef.  Ek het by die www.yolobowmen.com boogklub aangesluit .  Deel van die vereistes is dat jy “workparties”  sal bywoon.   Omdat arbeid so duur is hier, word al die onderhoud en verbeteringe by die skietbaan, deur die lede self behartig.  Ek het die Saterdag aangemeld om te help teikens vervang  en my verbasing was groot om ‘n regter van die “Supreme Court of California” te sien gras sny.  Hier is niemand te grand om hande uit te steek vir werk nie.  Kan al net sien hoe regter Hlope die plaaslike Soweto-sokkerveld  besoek om te help gras sny…………

Om in die huidige ekonomiese krisis geld te spaar, word die staatwerkers van California elke tweede Vrydag op furlough geplaas wat eintlik maar onbetaalde verlof is.   Op die voorblad van die San Fransisco Chronicle of Times of whatever sien ek dat van die furlough werkers hierdie Vrydae gebruik om te hulle dienste kosteloos aan te bied om indringer plante  langs riviere te verwyder! 

Amerika bestaan nie net uit lui en oorgwig mense nie.  Meeste Amerikaners is vrek harde werkers wat bitter min verlof vat/kry  en jou sal skeef sal aankyk as jy vir hulle se dat jy nou op 6 weke se velof gaan.

Dis my beskeie menig dat die Amerikaners die huidige ekonomiese krisis juis sal oorleef omdat hulle patrioties is en so hard werk en bereid is om verantwoordelikheid te aanvaar .

Ek wens Suid-Afrikaners was so en ek sluit myself daarby in.  Wat sal ons reaksie op so iets wees.  Kan jy jou indink dat jy ‘n onderwyser of polisieman of wat ookal is en jy is elke tweede vrydag op velof.  “Hoe lyk dit?  Sal ons Vrydag so bietjie gaan gras sny daar langs die Morelettaspruit?”  “Yeah Right! Kry vir jou chomma, ek het langnaweek en ek gaan bietjie kamp of visvang en by the way-  te hel met die regering!”

Ons probeer steeds gereeld iewers heen gaan om die land so bietjie te verken en was onlangs Carmel-by-the-sea.  Dit is soos die beste van Clarence, Dullstroom en Pelgrimrus gekombineerd en tien keer groter.  Dit is saam met Luzern in Switserland en Dingle in Ierland een van die mooste dorpe wat ek nog ooit gesien het.  Carmel is ook die dorp waar Clint Eastwood die burgermeester was.


Anja is nou op ‘n baie oulike ouderdom.  Oppad iewers heen,  se Liesl vir haar sy moet luister om Jesus se stem te hoor.  Die eerste paar dae klae sy dat sy niks hoor nie en op ‘n dag se sy dat Jesus met haar gepraat het.  Toe Liesl haar vra wat Hy se, kom die antwoord: “Hy se ek moet nou ‘n koekie kry!”  Liesl het dadelik vir haar ‘n koekie gegee toe hulle by die huis kom.

Ons het Clara by die kerk ingeskryf vir wat ek gedink het Kinderkrans is maar wat uitgedraai het om oefening vir ‘n konsert te wees.  Hulle het vir ‘n maand elke Vrydagmiddag geoefen en die laaste twee weke elke Saterdag ook vir drie ure.   Dis die goedkoopste “Babysitting” wat jy in Amerika sal kry en dan leer hulle ook nog iets.  Dis juis vanmiddag 4 uur die konsert  en sal netnou afsit soontoe.

Noudat die rekenaar weer reg is sal die blog meer op datum wees.  As ek nie te lui raak nie...

No comments: