Sunday, January 4, 2009

I'm dreaming of a White Christmas.....

As die Barnardt’s in SA aankom met ‘n Amerikaanse aksent moet asb nie dink ons probeer grand wees nie…….

Nou een more is ons in Target en die kinders is net onmoontlik. Hulle het baie gou agtergekom dat kinders hier nie mag pak kry nie en probeer die nuutgevonde soustrein met verbasende selfvertroue ry tot hy ontspoor. Ek het ewe gou geleer dat ‘n goedgeplaasde knyp op die regte plek met net genoeg geniepsigheid die regte uitwerking het. As die kind dan skielik in trane uitbars, val ek ewe verbaas langs haar neer asof sy in 'n doring getrap het met ‘n “Haai liefie wat het dan nou gebeur? “Sien jy wat gebeur as pappa praat en jy luister nie?” Gelukkig verstaan net die vir wie se ore dit bedoel is. Die oggend was nie eers knyp en dreigemente genoeg om met die kinders huis te hou nie. Met die betaalslag kon Liesl seker sien ek gaan binnekort 20 tot 30 jaar gevonnis word as ek nog ‘n langer in ‘n stout kind moet vaskyk en vra toe baie strategies dat ek vir ons by Starbucks iets te drinke te moet gaan koop. Seker om my nog langer besig te hou (buite bereik van die kinders) vra sy toe vir ‘n Vendi Chai Latte with half the Syrup. By die toonbank vra ek to vir die tannie vir “one medium sized Cappuchino and a Vendi Chai Latte with half the Syrup”. Sy is seker nuut by Starbucks want sy verstaan toe die hele bestelling behalwe die “'half the syrup” gedeelte. “You want that with no Syrup?” “ No I do, but only half” se ek. Sy gee my dieselfde uitdrukking as ‘n Pinbal wanneer hy tilt en ek besluit die beste wat ek kan doen is om maar terug te staar. Gelukkig wen ek toe die staring contest en sy herhaal toe die bestelling soos sy dit verstaan. “ Grande Cappuchino and a Vendi Chai Late with NO Syrup”. Ek vervies my half vir haar en se toe “No!, Not No syrup! Half the syrup!” terwyl ek my linker wysvinger die lug insteek en met ‘n sny beweging die ander wysvinger daaroor trek. Dit het haar ligte aangesit want sy se toe dadelik “ Oh you want that with h-a-v-e the syrup.” Ek besef toe ook dat my Britse Engels heeltemal onvoldoende gaan wees in hierdie land. ‘n Week of wat later was ons in Placerville in ‘n restaurant en toe Liesl na 20 minute van geen diens vir die meisietjie se “We’d like to order” antwoord die meisie met “One water coming right up!" So, ons sal maar ter wille van goeie kardiovaskulere gesondheid hier en daar seker die plaaslike aksent moet optel.

Terwyl ons is SA was, was ons al reeds genooi om die week rondom Kersfees saam met die ander Suid-Afrikaners(Die van thanksgiving) by Lake Tahoe te spandeer. Omdat ons die kostes moet aangaan om weer hier ‘n huis te moet opsit, het ons die offer van die hand gewys maar besluit om net vir Kersdag deur te ry om sodoende ook ons eerste “White Christmas” en die nuutjie van sneeu te ervaar. Ek het daarom ook vroegtydig sneeukettings vir die Vliegdekskip se wiele gekoop. Die dag voor Kersfees was daar nog erge sneeustorms voorspel en dit was wik-en-weeg of ons sou gaan of nie. Kersoggend was daar so min keer aan die Barnardts soos ‘n klomp woestynkamele wat water geruik het en storm of nie storm nie, ons het die pad gevat. So 50 myl van die huis af (by die einste Placerville van hierbo) was al die motors gestop vir “Chain control”. So reg in die Amerikaanse kultuur van gemagsugtigheid is daar ouens langs die pad wat die kettings VIR jou, op die wiele sal sit teen $30. Ek het toe maar uitgeklim in die sneeu en my eie kettings opgesit om die R300 te spaar. Vir afhaal vra hulle $20. Dit gaan redelik vinnig en die enigste down side is dat jy maar so bietjie nat word en natuurlik met koue hande terugklim in die kar.

Nadat ons drie karre gesien wat van die pad af gegly het (een in ‘n klomp bome in, ‘n ander so half teen ‘n afgrond af en een amper teen ons vas so met die verbygaan slag) was die woestynkamele se dors vir eers geles en het daar ‘n lang en onnatuurlike stilte op die kar toegesak. Met Clara se gewoonlike kroniese verbale diaree is so stilte iets besonders om te beleef, maar dit het gou plek gemaak vir haar “Is ons al amper daar? Wat so elke myl of wat van agter uit die kar gekom het.




Wie van julle kan nog Redding Internasionaal onthou?

Ons het saam met die Suid-Afrikaners ge-eet, persente uitgedeel, die kinders in die sneeu laat speel en toe weer die pad huistoe gevat. Elkeen moes ‘n persent van so in die omgewing van $30 dollar saamneem. Mans vir mans en vrouens vir vrouens. Name is in ‘n hoed geooi en die persoon kon dan enige persent kies en dit oopmaak. Die volgende persoon kon dan daardie perent by die eerste een afneem en so aan. Die enigste ander reel was dat enige persent net twee keer by enige iemand “gesteel” kon word.. Dit was vet pret veral omdat die Barnardts presies gekry het wat hulle wou. Ek het vir Liesl ‘n $30 Victoria’s Secret koopbewys gevat en Liesl het die mother van alle halogeen herlaaibare fliste gevat. Albei ons persente was met ons vatslag reeds vir die tweede keer gevat en kon dus nie weer deur enige iemand anders gevat word nie. Ek dink nie dit was soveel pret vir die wat nie gekry het wat hulle wou gehad het nie.

Nuwejaar was maar stil hier in en om die huis met Anja wat vreeslik hoes. Ek het haar by die dokter gehad maar is daar vort sonder enige voorskrif. Die ouens gee nie sommer iets soos anti-biotika nie en ek dink hulle maak hulle geld met al die opvolge besoeke.
Agter ons is San Francisco met die Golden Gate brug wat jy nie kan sien nie. Die klein knoets eilandjie tweede van links is Alcatraz
Vir die wat nie weet nie, ons het Vegter II aangeskaf as die tweede ryding. Die wat 'n langer pad saam met my kom sal weet dat Vegter I met volle militere eerbewys begrawe is.
Vegter II



Foto's: Adele Booysen (http://adelebooysen.blogspot.com/)







No comments: